Herman le Roux se storie oor “Andries”, die tramp en gewese lang, lenige losskakel.

En ek wonder: Is dit nie dalk dieselfde geval wat ek ken nie. Het juis ‘n jaar of twee gelede gehoor die persoon wat ek ken het ‘n boemelaar geword – en die omgewing pas ook.

Maar om my “Andries” se verhaal te vertel, sal beteken ek moet Herman se storie omtrent oorvertel. Dus gaan maak my gedagtes ander draaie, oor losskakels oor die algemeen. Losskakels het my nog altyd gefassineer, en hoewel dit die een van die dertien posisies is waarin ek “verteenwoordigende” rugby gespeel het, is dit stellig die posisie waarin ek die minste kere die trui oor die kop getrek het.

Dit werk so – ek het rugby vir die lekkerte gespeel en dus beteken “verteenwoordigend” ‘n gejol in min of meer die laagste spanne moontlik. Losskakel, dink ek, kan ‘n mens nie vir die lekkerte speel nie. Die verantwoordelikheid is net te groot. (Die twee posisies wat ek nooit gespeel het nie was skrumskakel en vaskopstut).

Ek het in ‘n omgewing, Stellenbosch, grootgeword waar skoppende losskakels as swak losskakels beskou is, en word Springbokspanne gekies, was ons eenstemmig dat Jannie Barnard die Springbokke se nommer tien moet wees. Van die dinge agter die skerms wis ons niks, en by terugskoue, kan ek nie onthou of Jannie eers regtig toe gespeel het nie. Slag om slag is Piet Visagie gekies.

Maar toe sterf losskakelspel onder ons jongklomp omtrent uit. Die WP se losskakel, Mike Lawless, was nou nie juis ons idee van iemand wat WP se giftige agterlyn aan die gang kon stook nie. Aan die buitekant was immers manne soos Eben Olivier, André Walters, Neloson Babrow en dan nog op die punte manne soos Gert Muller, Andy van der Walt en Jannie Engelbrecht.

Toe gebeur weer iets. ‘n Matiespan speel teen ‘n gekombineerde res van die WP en Bolandspan. Ons gaan kyk, want Jan Boland Coetzee gaan teen Rooies van Wyk te staan kom.

Van daardie tweestryd onthou ek naastenby niks. Ek onthou die losskakel van Maties. Dawie Snyman, sê ek rustyd vir my pa, gaan Springbok word voor die WP-keurders vir Mike Lawless pos.

Al wat Dawie dié dag “verkeerd” gedoen het was ‘n aanslaan volgens destydse reëls, ‘n vervatslag aan die bal. Hy het ook ‘n skepskop of wat nie heeltemal raakgekorrel nie, maar wat my bygebly het is dat daardie balle gelanseer is, en agter oor Coetzenburg se muur getrek het. Een keer het die bal nat teruggekom, duidelik uit die Eersterivier gevis.

En Dok Danie Craven het skynbaar sy ding gedoen. Toe die Springbokspan Australië toe aangekondig is, was Dawie in. Maar Piet Visagie ook , en Dawie moes tweede viool speel – naderhand selfs vleuel gekies toe hy nie meer weggelaat kon word nie, waar Piet sy sit gesit het.

Woensdagwedstryde, met Dawie op losskakel, druk die Springbokke drieë, en Saterdae wen die Springbokke met skoppe.

Uiteindelik is Dawie heelagter toe. Maar met sy terugkeer uit Australië was hy darem ‘n ruk die WP se losskakel.

En toe breek die dag aan dat Piet sy swanesang sing. Griekwas, sy bond, speel teen Suidwes en is besig om ‘n loesing op die lyf te loop. Toe breek Piet sy been kort voor die einde, en omdat reserwes destyds nog nie beseerde spelers kon vervang nie, maak Griekwas die wedstryd met 14 man klaar en met die vleuel, Koos Waldeck op losskakel.

Soos ek onthou het Koos net twee keer die bal kry. Die een was ‘n breekslag en drie, en die ander ‘n dwarsskop en drie, en Griekwas wen die wedstryd – in my destydse jeugdige gemoed ‘n onweerlegbare bewys dat ‘n losskakel wat kan hardloop beter is as ‘n statiese, skoppende losskakel.

As dit kon, sou ek graag Naas Botha nie wou noem nie. Genoeg om te sê, as ek een van die “I love Jannie Els”-T-hemde kon te koop kry, het ek een gekoop.

Maar in ons familie was daar ‘n groot Naas-aanhanger.

Ons self het toe al in die Vrystaat gewoon, en my ouma Toerien van Stellenbosch was die Naas-aanhanger. Die rede was taamlik voor die hand liggend – sy was ‘n nooi Botha, en geen Botha kon nooit niks verkeerd doen nie. Kort voor haar dood was sy darem vies vir PW en Pik wat sy geoordeel het die land weggegee het.

Maar Naas het ‘n held gebly. In Stellenbosch was sy taamlik geïsoleerd wat dié siening betref, en het sy oral, by die brugklub, by die Susters, by die Volkspele waar sy die klavier gespeel het, in woordestryde betrokke geraak.

“Dis net oor Naas vir Transvaal speel dat julle so teen hom is,” was haar standaard-verweer.

Dat sy male en male sonder tal reggehelp is dat Naas NIE vir Transvaal gespeel het nie, het nooit ‘n verskil gemaak nie. Sy is graf toe in die geloof dat mense so lelik met Naas was omdat hy vir Transvaal gespeel het.

Na ‘n paar jaar in ballingskap (Pretoria) is ek weer terug in die Vrystaat en val by Leon Botha in om weer lewe in my getaande landloop-“loopbaan” te probeer blaas. Terwyl ons om- en om Tempe se veld hardloop, speel twee kompanies teen mekaar – dis nou rugby.

En daar val my oog op ‘n lang losskakel. Nie lenig nie, maar taamlik stewig gebou. Wil hy die lyn breek, breek hy. Gee hy aan, is dit suiwer. Wil hy skop, skop hy op die grassprietjie waarvoor hy mik, nie die een langsaan nie. Maak nie saak watter voorspeler om ‘n vaste faset skil en op hom afpeil nie, hy dop hom sonder seremonie om.

By geleentheid trek die bal van die skrumskakel na dié speler toe die fluitjie blaas. Die losskakel vang die bal, en kyk na die skeidsregter oor wat nou verkeerd sou wees. Dis toe dat een van die stutte besluit dis nou sy kans, en hy storm op die losskakel af wat hom sien kom nie. Hy duik in die verbaasde losskakel vas, wat die stormende gevaar op die laaste oomblik gewaar het. Die stut slaan soos ‘n os neer, en moet noodhulp kry, terwyl die losskakel skaars gewieg het.

Dit was juis ‘n era toe Vrystaat ‘n nuwe losskakel gesoek het. Hier was duidelik ‘n antwoord, maar daar is geen Dok Craven langs die veld wat talent raakgesien en gaan vertel het nie.

deur Herman Toerien

5 Responses to Iets oor losskakels

Users Online

Total 233 users including 0 member, 233 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm