Dit was Frans Steyn se heel laaste minuut in die Wêreldbeker.

“Ek het op die grond gelê, toe wil ek ‘n Samoaan so bietjie wurg, verstaan…” seg ou Steyna ewe droog en ondeund. “Die volgende oomblik slaan iemand my op die arm, nie eers ‘n kwaai hou nie, maar toe wéét ek: my Wêreldbeker is oor en verby. Flippit, daai eilandmanne tackle hard!”

Vanoggend het Frans, soos ons almal, voor die TV gesit en biltong inryg teen die kwarteind-stres. Hangskouer in die opstal op Heuningkraal in die Vrystaat, duisende kilometers van die aksie in Wellington, was ons yster-senter nie daar om die Aussie-agterlyn oop te kloof nie. Tjaag, hy kon nie die bal vanaf sy eie helfte deur die pale jaag, of druk verlig met ‘n lynskop van sewentig, tagtig meter nie.

Steyna kon net sit en biltong kou en stres.

Sy skopvoet ledig.

“Dis makliker vir my om te speel as om te kyk, joe. Ek hoop Jean (de Villiers) djôl goed, want die manne het hom nodig.”

Op die terugvlug huistoe in daai lang ure oor die Indiese Oseaan, het Frans nagedink oor sy span. “Wat my meeste worrie: ons is ons eie grootste vyande. As ons teen die Aussies speel, sal ons wen. Ons moet net nie teen onsself begin speel nie.”

In ‘n eksklusiewe onderhoud skaars ure ná sy skouerspier geheg is, vertel hy eergister in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein hoe graag hy wil terugkom Suid-Afrika toe, van sy kopstampe met Div, sy Bokdrome, die liefde in sy lewe, sy warsgeit, die lengte van sy hare…

In die hospitaalportaal stap hy ons tegemoet, ‘n reus in ‘n liggroen T-hemp, skouer in ‘n hangverband, lyf vol pynpille, hare in ‘n netjiese nommervier.

“Ek was rêrig geseënd in die Wêreldbeker,” sê hy met die sitslag. “Lekker rugby gespeel, net weer op vorm gekom. Dis ‘n allemintige teleurstelling, ek’s drie maande uit aksie. Maar as die Vader my spaar, behoort ek nog ‘n Wêreldbeker te maak. Dis waarvoor ek nou gaan werk.”

Hy kyk jou waterpas, hierdie boerseun van Bethlehem, so reguit soos die rye mielies op sy pa se lande.

Die afgelope drie jaar in Frankryk het Frans hom by die klub Racing Metro as binnesenter geslyp. Almal (Div ook!) weet nou dis sy beste posisie. Hy’s ‘n superheld daar, sy gesig lewensgroot op busse, in TV-advertensies.

“Omdat Frankryk orals kontrakteer, speel jy elke naweek teen van die beste senters in die wêreld. Hulle weeg nie minder as 100, 110kg nie. Rof.”

Hyselwers draai by 110. “Ouens hier het gesê ek moet maer word. Toe skeer ek my hare en nou’s hulle stil, al weeg ek nog dieselfde.”

By die Franse het hy balverspreiding geleer, “want hulle gooi die balle meer rond, en daar’s nie sulke vaste strukture nie. Dit help jou om in Suid-Afrika nuwe goed te probeer, want hier’s jy nogal vasgevang in spelplanne, te bang om te waag.”

Nie dat iets hóm ooit al gekeer het nie…

Hoe sê hulle? Steyna is óf kwiksilwer of katestrofaal, en dis wat hom as speler so aanskoulik maak.

   “As ek ‘n flop maak, doen ek dit behoorlik!”

Die moeder van alle Frans-floppe was in die Super14 in 2007 toe Frans reg voor die pale teen die Bulls misgeskop het. “Toe score Bryan mos nog in die 82ste minuut en hulle wen met ‘n punt.”

Hy skud sy kop, opnuut verbyster.

 “Nou-nog as ek saans in die bed lê, wil ek huil daaroor. Dit stalk my hier agter in my kop.”
Hy begin lag en lag. Weet-ek-wat-óók-met-hom-gebeur-het?
Neeee…?
Net die volgende Saterdag, voor die toets teen Australië, maak die span kringetjie. Frans, nooit een wat juis saamskree Bokke! Bokke! nie, word toe berispe oor hy so stil is. “Ek skrik so groot ek skree sommer ‘Sharkies!’ Jaque Fourie en JP (Pietersen) wou hulle doodlag, maar Victor-hulle wou my dônner!”

 Dis Frans. Altyd sy eie man. Onkonvensioneel. Soos die Massey Ferguson-trekkers op hul plaas. “Rooies,” verduidelik Frans. “Nie groenes nie. Almal het groenes.”

Dis wat hom so briljant maak, sê iemand, maar dis ook die Achilleshiel wat hom in die verlede al so dikwels in die moeilikheid laat land het.
Soos die keer toe hy sy Yamaha 1000 Fazer rég tussen Rudolph Straeuli en Brian van Zyl se karre by Absapark gaan parkeer het. Hy’t goed geweet baaiks is teen die reëls, grinnik ‘n vriend, maar tipies Frans steek hy dit ook nie weg nie.

En daardie grotman-haarstyl…?

“Ná matriek wil ‘n ou mos maar hare groei. En ek hou maar van my lang hare, verstaan.”

Sy taaiste opponent, het hy al verklaar, is sy haarkapper. Hoe meer almal gekla het, hoe langer het sy hare gegroei.

En toe, net voor die Wêreldbeker, verras Simson ons en sny sy lokke af in ‘n twee-fase-aanslag. “Die eerste mediumsnit het vir my bietjie snaaks gelyk, toe sny ek sommer self vir my ‘n No4 met ‘n knipper voor die spieël.”

Hy groei hulle al klaar weer.

Frans se gereelde koppestamp met afrigter Peter de Villiers is g’n geheim nie. “Hy’s die rede hoekom ek oorsee is. Ek het gedink my loopbaan is verby in Suid-Afrika, dat ek my bek te groot gerek het.”

Maar die Wêreldbeker het als kom verander. Saam met almal wat vroeër so gemor het oor Frans se spelpeil, noem Div sy binnesenter nou die “openbaring” van die toernooi. Frans se besering, sê Div, is ‘n erger verlies vir die Bokke as Dan Carter s’n vir die All Blacks.

Sy en Div se verhouding is nou beter?

    “Ek weet nie,” soek hy woorde, “ek’s ‘n moeilike ou… ek’s swart-en-wit.”

Intussen maak hy ‘n lieflike hopie geld daar op die Franse oeslande. “Kyk, dit gaan tog bietjie oor die geld, né. Maar waarmee ek die laaste ruk sukkel, is hoeveel geld opweeg teen die feit dat jy nie by die huis, by jou familie en vriende is nie.”

Sy kontrak verstryk in Junie 2012. “Dan sal ons maar sien. Ek wil rêrig graag terugkom, maar geniet Frankryk ook baie. Dis net: sal ek weer vir die Bokke kan speel as ek in Frankryk bly, met die nuwe coach wat kom?”

Frankryk het hierdie boertjie grootgemaak, sê almal.

“Wel, ek hoop so!” spring die stout in sy oë.

Hy praat al ‘n paar woorde Frans, eet paddaboudjies en het selfs leer weglê aan foie gras. Op die Vrystaatse manier: dikgesmeer op ‘n stuk steak.

Maar veral het die Franse vir Frans anderster leer kyk na die lewe en die wêreld. “Daar’s min worries in my kop deesdae. Ek dink dit het ook te doen met my verloofde, Linca Meyer.”

Dié petite sielkunde-student kom van Durban, hy’t haar daar in ‘n nagklub ontmoet. “Ek’t haar so gekyk en gedink jis sy dans nogal sexy. Sy wou lank niks met my te doen gehad het nie. Dan’s ons aan, dan’s ons af, tot ons eendag oop kaarte gespeel het. Ons trou volgende jaar op 23 Junie.”

Waar en hoe weet hy nie.

“Vra haar. Sien, ons het saam probeer om ‘n trouliedjie te kry. Maar dit het net so vyf minute gehou, toe begin ons stry. En ek sê vir haar luister gou-gou hierso, jy reël die troue, jy kry my suit, ek sal opdaag.”

Hy was die jongste Bok wat ‘n WB gewen het, help máák wen het… Waar’s die dae toe Fransie nog almal ge-oom daar in die Haaitenk – selfs sportkommentator Hugh Bladen óp TV. Jis, toe hy twee dae ná matriek by die Sharks aanmeld, het hy Johan Ackermann ge-“aangename kennis, oom”.

“Later, in ‘n boks-sessie, kry Johan my terug en slaat my dat ek stêrre sien – dit was vir hom ‘n groot joke.”

Sy goeie pêl, Ruan Pienaar, was saam met hom op Grey Kollege in Bloemfontein. “Ons het gereeld saam gaan balskop. Dan gooi Ruan-hulle my op die grond en kielie my. Deesdae boelie ek hóm,” skerts hy.

Dis waar Frans sy 60-meter-gifskop ontwikkel het. “Ek’t maar net baie geoefen. As ek geïrriteerd of verveeld was, dan’t ek maar  gaan skop.”
    Hoe kry hy dit reg om so ver te skop?

“Elke ou het mos maar sy dingetjie wat die Here hom mee seën.”

Frans se ouer broer Wimpie (27) kyk nie eens rugby nie. “Hy sal my sms en sê ‘great game’, maar ek weet hy’t nie eens gekyk nie. Ek laaik dit oor ‘n honderd dat ons so verskil.”

Dit was vir hom “great” om saam met Mossie (Jacque Fourie) senter te speel. “Ek hoop hy kan eendag van my sê wat ek van hom sê… hy’s yster.”

Hy bly so ‘n oomblik stil. Sy oë soek vir Linca waar sy tussen ‘skoonouers’ Mercia en Piet sit en wag. Langoog kyk hulle vir mekaar, sy glimlag liefies terug vir haar breker.

Nou-nou ry hulle plaas toe, Frans kan nie wag om saam met sy pa in die bakkie te klim vir ‘n draaitjie deur die lande nie.

Eendag, ná die Groen en Goud, wag Heuningkraal se rooigrond. Maar eers, seblief, soek ons nóg massiewe monsterskoppe, nog van daardie kraglopies wat Frans Steyn so ongeërg-briljant optower.

“Maar verstaan,” sê hy vir oulaas, reguit, sodat ons dit moet wéét: “Ek speel nie rugby vir die rekordboeke nie, nie om 200 toetse agter my naam te hê nie. Ek speel vir die ou langs my.”

    Steyna, ons staan langs jou. Die hele Suid-Afrika.

Artikel deur Hanlie Retief , Rapport

Users Online

Total 255 users including 0 member, 255 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm